Katot Malanke *
Verbeelding is die skepper van idees en drome...
...party idees bly drome

[
YouTube skakel ]
Programme, brokkies, kode ensomeer, word gesorteer van die nuutste na die oudste. Die enigste blad wat aandag trek is die een wat bly groei.
Waar kom Katot Malanke vandaan?

Dit het begin in die laerskool, iewers in die middel van die vroë 1970's. Soos elk maak ons spore wat ons volg tot diep in die toekoms sonder dat ons dit besef.
As kranige Afrikaanse leerling, lief vir dig, storie skryf en die lees van boeke, het ek bekend geword onder die kinders met allerhande byname wat my gedra het tot in die naskoolse werksplek.

My Engelse storieboek wat ons vir die standerd 1 jaar moes lees was nie 'n eenvoudige stuk soos die ander kinders nie, nee, inteendeel, die prentjie op die voorblad het my gebind: 'n Potlood-skets van 'n poskoets in die wilde weste van Amerika. Swart op 'n oranje-bruin agtergrond. Maanhare in die wind van die vier perde en die bestuurder met sy régte cowboy hoed.

Ma het gevoel Laramie Stage, deur die skrywer wat ek nie meer kan onthou nie, was té ver bokant my leesvermoë. Die storie sélf het in die niet verdwyn. Dink die eningste rede hoekom ek die voorblad kan onthou is omdat ek dit oor-en-oor geteken het.

Ons Afrikaanse voorgeskrewe boek in standerd 2, die jaar wat ons begin het met klas-wisseling, was "Die Baasverteller". 'n Boek met kort stories. Móói stories. Vir die kind met verbeelding, en selfs as volwassene, is dit 'n uitstekende boek.

Een van die stories in hierdie boek was oor Katot. Een van my gunsteling stories in die boek, gevolg deur wat láter my gunsteling geword het, "Goue reën".

Ouma Nellie het haar kinders grootgemaak met rympies, soos die meeste ander kinders van ma se tydperk. Wel, pa het óók alles in rympies gedoen om te onthou. Ek het groot geword met hierdie rympies van die ouer geslag, maar nooit het dit régtig deel geword by my nie. Ek het weer elke geskrewe stuk woord-vir-woord opgeneem - dit het myrympies geword.

Die belangrikste boek naas die Bybel was
Afrikaanse Woordelys en Spelreëls wat ma in haar boekrakkie gehad het. Later in 1974 het ons Afrikaanse-klas onderwyser, meneer Hendrik Erasmus, 'n paar afrolle gegee om te leer. Hierdie hele stel fondamentele reëls van die Afrikaanse taal, het deel van my bestaan geword. Lang geslote lettergrepe, waar 'n woord opgedeel kan word, sametselling van woorde ensomeer, loop nog elke dag in my gedagtes wanneer ek lees.

In die Engelse taal is dit vir my vreeslik verwarrend wanneer dit kom by spel reëls. Daar is net nie 'n vas gepende stel daarvan nie. Wat wel uitstaan is dat indien die volgende woord ná 'n "a" begin met 'n vokaal of syfer, dit verander na 'n "an". Voorbeeld hiervan is "this is a first" teenoor "This is an 1st".

Ons het nou gevind waar Katot vandaan kom. Kom ons gaan kuier by Malanke...

Janke Malanke was deel van my pappegaai-opname van elke stuk wat ek moes voordra. Breyten Breytenbach se "Janke Malanke" was een my voorskrewe gedigte wat deur die jare by my kom spook het. 'n Gedigtelike rympie-stelsel wat jou tong laat knoop en jou die kriewelinge gee van onheilspellende woord keuses en verdraaide storie-vertelling, was ek die enigste kind op skool wat hierdie elle-lange gedig kon opsê sonder om een spelfout of woord uit te laat.
Selfs in die hoërskool, sommer nog in die begin van die skooljaar, het meneer Steyn, die hoof, my opgeroep na die verhoog om die Maandag oggend Janke Malanke voor te dra voor die hele skool.

Janke Malanke het Katot Malanke geword in die laat 2000's - die twee belangrikste stories in my bestaan. Die een 'n kleuter en die ander 'n volwassene. Solank die kleuter in ons nie verdof nie, bly die volwassene soepel in hul denke en werke.

14 Oktober 2023
Redigeer op: 17 Oktober 2023


Hier is geen kopieregte vir my inhoud nie. Gebruik soos jy wil. Almal sukkel - net op versillende maniere.
Ploerts se splat kom van
hier af. Niks was verander nie, net verklein.
Laptop outjie kom saam met die program:
Rocketcake